Sunday, April 26, 2009

Uit ‘n tiener se perspektief ... 26 April 2009

Dr Bettie het vanoggend gepreek ‘Die genade van God was groot oor almal’. Haar hoofvers uit die Bybel was Handelinge 4:33: ”Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.” Die vers net voor dit, Handelinge 4:32, sê: ”Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.” Daarna het sy gevra hoekom was gelowiges so arm?

Hierdie goed het voor die monargie gebeur, wat beteken dit was voordat konings geregeer het. Die mense was selfversorgende gesinne wat ‘n lewe gemaak het deur hulle landbougrond te bewerk. Maar toe kom die konings in die prentjie en alles het verander. Die konings en hulle familie moes versorg word en hulle wagte en soldate moes betaal word, en wat het hulle toe gedoen? Hulle het die belasting verhoog. Die boere moes hulle landgoed verkoop.

Dr Bettie het ook ‘n storie vertel van ‘n krippel man en ‘n blinde man wat mekaar gehelp het. Maar toe daar ‘n leeu aankom het hulle verdeel en hulle kon nie sonder mekaar oorleef nie. Die leeu het altwee gevang...

Die dele wat sy uit die Bybel gelees het was:
-Eksodus 20
-Romeine 12:6, 9, 10
-Lukas 6:36
-Lukas 12:15-21
-Handelinge 4:32-37

Aankondigings wat jou raak! 26 April 2009

Aankondigings wat op tieners betrekking het:

-Daar sal geen kategese wees die 26ste April en 3de Mei nie
-Boilerroom sal Woensdag om 18:00 plaasvind
-"Mark oppie Sportgrond" - jeugafdeling het tuisgemaakte lekkers nodig. Nou het julle ‘n rede om bietjie in die kombuis te help!
- Onthou om ‘n nota te maak van die Marydale-uitreik wat ons beplan. Verdere inligting sal deurgegee word, of kontak Adolph by 082 979 4277 of 082 665 2021

Saturday, April 25, 2009

Jeug-uitreik na Marydale 23 -27 September 2009


Hallo almal

Dit is nog 'n rukkie, maar om seker te maak julle dagboeke is oop gee ons graag die datums deur vir die Marydale-uitreik. Praat gerus met jou vriende en hulle sal kan getuig van watter spesiale ervaring dit vir hulle en vir die Marydale-inwoners was!

Ons wil al die jeug graag saamneem - jy kan 'n verskil in 'n ander se lewe maak!!

Navrae: 082 979 4277. Hou asb. die datum solank oop .....

Sunday, April 12, 2009

Om te lei - maar waarheen?

Daar is ‘n groot verskil tussen om te lei en om te ly. Of is dit dalk dieselfde? As jy lei gaan jy ook noodwendig swaarkry. Jy gaan soms besluite moet neem wat dalk nie die gewilde besluit is nie, maar die regte een. Is dit nie wat met Jesus gebeur het toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het nie? Hy was en is die grootste leier van alle tye – iemand om na op te kyk, iemand sonder sonde, iemand wat ons kan volg en weet dat ons nie verkeerd kan gaan nie.

Meeste van ons het skoolleiers in die vorm van klasleiers of ‘n leerlingraad, maar jy hoef nie as ‘n leier gekies te word om ook ‘n leier in eie reg te wees nie .... Jy kan ‘n leier wees op soveel ander terreine, by soveel ander aktiwiteite – ook by die kerk kan jy ‘n leier wees. Ja! Hoekom neem jy nie die leiding en ‘n begin ‘n groep vir iets waaraan daar ‘n behoefte is nie? Dit hoef ook nie tot kerklike aktiwiteite beperk te wees nie, maar kan enige omgewingskwessie aanspreek, bv. besoedeling (begin ‘n “Waverley Groen Groep”). ‘n dansgroep, of enigiets waaraan daar ‘n behoefte is en waarmee ons die Here se naam kan verheerlik en Sy werk op Aarde voortsit. Jy kan dit begin sonder geld of ander hulpbronne, jy hoef nie mooi of slim te wees nie - doen dit net! Onthou leiers staan nie stil nie, want as hulle stilstaan, beweeg hulle nêrens heen nie, en ‘n leier moet juis beweeg en die span vorentoe neem .... Wees ook verseker dat jy op ‘n paar tone gaan trap in die proses! Eina!

Ons wil graag hoor hoe julle leierskap toepas! Lewer gerus kommentaar op ons Tieners@Waverley blog.

Lees ook die volgende artikel oor watter groot leier Abraham Lincoln was: http://attie.wordpress.com/2008/07/14/abraham-lincoln-en-leierskap/

“Wat kan ons van Lincoln leer?
Hoe kan ek my mislukkings verander in suksesse?
Let op: elke keer as Lincoln misluk het, was hy terug om iets groters te doen. Hy het dikwels misluk, maar soos Maxwell sê: opwaartse mislukking. Dit beteken dat hy innerlik baie sterk moes gewees het. Daar was baie emosionele en professionele hekkies waaroor hy moes kom, maar nooit het ‘n terugslag hom permanent ondergekry nie.
Hoe dikwels laat ek en jy toe dat mislukking ons toekoms bepaal? Hoe het Lincoln daarin geslaag om uit elke mislukking te leer - om sterker anderkant uit te kom? Ons kan twee lesse by Lincoln leer:
Volharding. Dit is die kern en Lincoln was ‘n meester in volharding.
Glo in jouself. Lincoln het hom as ‘n leier gesien lank voordat hy een was. Dit was nie arrogansie of leë ambisie nie. Hy het ‘n doel in die lewe gehad wat die moeite werd was om na te streef.”

Volhard, bepaal JOU doel in die lewe, en weet waarna jy streef ... en werk dan daarvoor!